CASE IH BRING GROOT MASJIENE NA FRANSHOEK BOEREVERENIGING
DEUR LENE WOLMARANS | 20 AUGUSTUS 2025
Op 15 Augustus 2025 het die Franshoek Boerevereniging ’n baie spesiale boeredag aangebied – en dit was niks minder as indrukwekkend nie. Die dag het gedraai rondom ’n praktiese demonstrasie van van die nuutste en grootste landboumasjiene in die CASE IH-reeks.
Boere en belangstellendes kon van naby kyk hoe die splinternuwe CASE 715 Quadtrac sy spierkrag wys, terwyl die CASE Puma 220 en die CASE Magnum 405 net so baie aandag getrek het. Die verskillende CASE-spuite en die nuwe CASE Early Riser Planter het veral gewys hoe moderne tegnologie boerdery al hoe meer presies en doeltreffend maak.
Maar dit het nie net by trekkers en implemente gebly nie – daar was ook ’n hele reeks konstruksiemasjiene op die veld, wat beslis vir groot nuuskierigheid gesorg het.
Tydens die praktiese demonstrasies, is daar waardevolle inligting gedeel oor presisieboerdery, met spesiale klem op die nuutste plantertegnologie van Precision Planting. Dit het baie gesprekke aangevuur oor hoe boerdery al hoe slimmer en tegnologieser word.
Hierdie boeredag is moontlik gemaak deur die samewerking tussen VKB, CASE en CASE Konstruksie – en dit het weereens gewys hoe belangrik vennootskappe in die landbougemeenskap is.

